As weggee lekker is

As weggee lekker is!

Lomé Louw

Lielie sit op haar bed en kyk na al haar poppe.  Voor vandag het sy nooit besef hoe baie poppe en teddiebere sy het nie.  Haar hele bed lê vol teddies en op ‘n manier is sy lief vir hulle almal. 

Sy hou nie so baie van die roomkleurige teddiebeer met die bruin onderbaadjie aan nie.  Die beer lyk vir haar kwaai en dit pas vir haar meer by ‘n seun as by ‘n dogter.  Sy het die beer by die verpleegsters gekry die dag toe haar boetie Helmut gebore is.  Hulle het dit vir haar gegee om geluk te sê dat sy nou ‘n ousus is.  Dit is seker maar hoekom die beer soos ‘n seuntjie lyk, sodat dit haar sal herinner aan die dag toe Helmut gebore is.

Dan stap sy na al haar baba-poppe toe.  Hulle lê almal mooi in ‘n ry in die baba-bed waarin sy geslaap het, toe sy ‘n baba was.  Al haar poppe is mooi toegedraai – elkeen in haar eie kombersie.  Sy is mal oor haar teddies, maar haar baba-poppe is soos haar eie regte-egte babas.  En net so mooi soos wat Mamma na haar en Helmut kyk, kyk sy na elkeen van haar poppe.  Sy vryf liefdevol oor elkeen se koppie. 

Dan gaan sit sy weer op haar bed.  Sy het vandag by Anja gaan speel.  Toe sy vir Anja vra of hulle met haar poppe kan speel, het Anja gesê sy het net een pop.  Anja het haar pop gaan haal.  Die pop is regtig baie oud; haar haartjies is al besig om uit te val en die pop se “velletjie” is al grof en hard.  Lielie kon sien dat Anja net so lief vir haar baba-pop is, soos sy vir hare.  Anja se pop se kleertjies was mooi skoon gewas en sy was ook toegedraai in ‘n kombersie.  Die kombersie lyk of dit Anja s’n kon wees toe sy ‘n baba was.

Miskien moet sy vir Anja een van haar teddies gee.  Sy glo nie Anja het ‘n teddie waarmee sy slaap nie.  En sy wat Lielie is, het so baie, sy slaap elke aand van die week met ‘n ander teddie.  Dalk moet sy vir Anja die seuntjiie-teddie gee.  As ‘n mens geen teddie het nie, sal ‘n seuntjie-teddie mos ‘n groot en spesiale geskenk wees.

Sy sit die teddie langs haar tas neer.  More maak sy Anja se hart baie bly.  Dan roep sy vir Mamma en vertel haar van haar plan.  Mamma druk ‘n soentjie op Lielie se voorkop.  “Dit is is ‘n baie mooi gebaar, Lielie.  Onthou as ‘n mens se hande toe is en jy nooit iets vir ander gee nie, is jou hande ook toe en sal jy nooit iets van iemand ontvang nie.”

Die aand lê Lielie in haar bed.  Sy dink na oor Mamma se woorde.  So, as sy haar heel lelikste teddie weggee, is haar hande regtig oop om iets vir iemand te gee?  Sy rol rond in haar bed en kan nie aan die slaap raak nie.  Sy gaan haal die seuntjie-teddie wat langs haar tas lê en raak met hom styf in haar arms aan die slaap.

Die volgende oggend skyn die son vrolik deur Lielie se gordyne.  Sy voel net so vrolik soos die son se strale.  Sy stap na haar baba-bed en tel een van haar gunsteling poppe uit die bed.  Sy gaan haal die mooi pers kombersie met hartjies uit haar kas en draai die baba-pop styf daarin toe.  Dan stap sy kombuis toe en vertel vir Mamma van haar nuwe plan.

Mamma glimlag en gee vir Lielie ‘n stywe drukkie.  Dan gaan laai sy vir Lielie by die skool af.

Die middag toe Mamma vir Lielie by die skool gaan haal, staan Anja met die baba-pop langs Lielie.  Lielie gee vir oulaas haar pop ‘n soentjie, dan druk sy vir Anja en klim langs Mamma in die kar.  “Dit was die lekkerste skooldag in my lewe,” babbel Lielie.

“Hoe so?” vra Mamma.

Lielie vertel vir Mamma hoe opgewonde Anja oor die pop was.  Dan buk sy af en haal ‘n briefie uit haar tas uit.  Sy vou die briefie oop en lees dit vir Mamma:

Liewe Lielie

Ek weet dit moes vir jou moeilik gewees het om een van jou babas weg te gee. Ek sal die beste tweede Mamma wat daar al ooit was vir jou baba-pop wees.  Ek is al klaar baie lief vir haar.  My pappa en mamma gaan deur ‘n moeilike tyd.  My ouma het by ons ingetrek en daar is nie baie geld vir ekstras nie. Verlede week was my verjaarsdag en ek het so gehoop ek sal ‘n pop kry.  Ek het lanklaas so ‘n groot geskenk gekry soos vandag!

Baie liefde

Anja xx

“Mamma, ek dink nie ek het al ooit iemand so gelukkig gemaak nie.  Ek het gedink ek gaan teen die einde van die dag vir Anja vra of ek maar eerder die pop kan terugkry, want dit was baie moeilik vir my gewees om my pop weg te gee.  Maaaaaar, die lekker-gevoel hier binne my was baie baie groter as die hartseer-gevoel oor die pop.  Toe Anja die briefie in my hand sit, het ek verstaan wat Mamma bedoel het, met as jou hande toe is, kan niemand vir jou iets daarin sit nie.

Mamma glimlag:  “Jy het al iemand so gelukkig gemaak Lielie, nou-net vir my.”

Lielie druk die briefie styf teen haar hart.  Dat weggee so baie mense so lekker en gelukkig kan laat voel!

Oorspronklik in Ek en my Kind, Somer 2019 gepubliseer

Contact

SAVF FAMNET,
41 Hospital Street, Arcadia, 0083
PO BOX 40526, Arcadia, 0007
012 325 3920
erheeder@savf.co.za
084 383 9417

Join us here

Upcoming events

No upcoming events.

Stay up to date

Enter your email address to receive notification of news and relevant updates.