Helena van der Nest
Inperking (Lockdown) het onverwags en vinnig gekom. En vir die eerste keer in ‘n jaar het ek tyd gehad om aan my eie skilderye te werk in plaas van om ander mense te help met hul kunsprojekte.
Tegnologies het die grendeltydperk ‘n paar uitdagings opgelewer. My klasse is verander in WhatsApp-ondersteuningsgroepe en elke week het studente kuns- en kreatiwiteitsidees gekry om hulle te inspireer en die verveeldheid hok te slaan. Ek het gou agtergekom dat ek demonstrasievideo’s moet opneem om my studente te help om nuwe vaardighede te leer.
Kort daarna is Zoom-sessies gereël en al my studente wat deelgeneem het, het verbind en deel van ‘n groot kunsfamilie gevoel.
Ek is deel van ‘n groot familie. Die meeste van my familielede en beide my kinders bly in Europa. Gedurende die inperking het ons familie Zoom-sessies op Sondagmiddae gehou. Dit was ‘n deurbraak om niggies, nefies, susters- en broerskinders, broers en susters almal op dieselfde tyd te sien. Pasgebore babas is trots aan die res van die familie gewys. Die inperking het ons verbindings aan mekaar verander en verbeter.
Oorspronklik in Ek en my Kind, Lente 2020 gepubliseer
