Lielie en die miere

 Lielie en die miere

“Lielie, wat maak jy?  Kyk net hoe lyk die kombuisvloer!” raas Mamma.

Lielie sit plat op haar agterstewe terwyl sy een vir een miertjie met ‘n lepel uit die suikerpot skep.  Reg rondom haar lê suikerkorrels gestrooi. Die vloer is ‘n TAAI gemors.

Lielie vryf oor die kombuisvloer met haar handjies en probeer al die korreltjies op een plek bymekaar maak. “Ek red net die miere, Mamma,” antwoord sy met ‘n soetstroperige stemmetjie.   Sy wil nie hê Mamma moet raas voordat sy eers kans het om te verduidelik waarmee sy besig is nie.

“Ek weet as Mamma hierdie miere in die suikerpot kry, gaan Mamma die hele spul in die asblik gooi, of erger, hulle gaan in Mamma se warm koffiewater beland…. En dan …. Dan is al hierdie wonderlike klein goggatjies weg.” Lielie se ogies wil-wil vol traantjies skiet.

“Lielie-lief, verduidelik net vir Mamma wat is so spesiaal aan hierdie klein miertjies dat jy hulle almal wil red?  Hulle maak my die hoenders in, want ‘n beker koffie met miere wat bo-op dryf, was nog nooit vir my mooi nie,” vra Mamma vieserig.

“Vandag het ek hierdie klein miertjies in aksie gesien, Mamma en besef dat hulle, net soos ek, vir ‘n rede hier op aarde is. ‘n Klomp van hierdie klein miertjies het ‘n reuse naaldekoker van die sandput tot by hulle nes langs die swaaie by die skool gedra.   Hulle het nie eers een keer gestop om te rus nie,” vertel Lielie opgewonde.

“Het die naaldekoker nog gelewe, Lielie?” Mamma trek haar gesig op ‘n plooi en maak ‘n rilbeweging met haar lyf. Sy gril regtig vir goggas!!

“Nee Mamma hy het nie.  Ek het vir Juffrou gevra waarom miertjies ander dooie goggas na hulle nes toe dra. Sy het verduidelik dat miere ongelooflike insekte is.  Miere hou die aarde skoon van enige dooie gogga wat rondlê.  Hulle dra die goggas na hulle nes toe, want hulle gebruik dit as kos.  Kan Mamma dink hoe dit buite sal lyk as die miere nie die dooie goggas wegvat nie? Dit sal soos ‘n goggabegraafplaas lyk!!  Maar dit is nie al nie, Mamma.  Juffrou het my hand gevat en ons het klas toe gestap.  Sy het gesê sy wil vir my nog ietsie gaan wys.  In die klas was daar miertjies wat besig was om al ons broodkrummels wat ons gemors het, te versamel en ook dít na hulle nes toe te dra.  Mamma, ek het vandag agtergekom dat miere nie op die aarde is om  ons die hoenders in te maak nie!  Hulle maak van die aarde ‘n beter, skoner plek!  Juffrou het my ‘n drukkie gegee en gesê dat God ‘n plan het met alles wat Hy skep, selfs met die kleinste van miertjies.”  Lielie hou ‘n piepklein miertjie in haar hand dat Mamma ook die wonderlike kreatuurtjie kan beskou.

Mamma gaan sit langs Lielie op die kombuisvloer en begin die miertjies een vir een uit die suikerpot skep.  “Lielie-kind, vandag het jy vir Mamma ‘n les oor die lewe geleer.  God het verseker ‘n plan met elkeen van ons, maak nie saak hoe klein of hoe groot ons is nie.  Mamma gaan van vandag af probeer om nie weer miertjies uit te roei nie.” Mamma buk af en gee vir Lielie ‘n soen op haar voorkop. “Weet jy Lielie, jy is, net soos hierdie klein miertjies, baie spesiaal.  Hulle maak van die aarde ‘n beter plek en jy ook, want vandag het jy my geleer om na God se wêreld om te sien.  Ek is trots op jou, en glad nie meer kwaad oor die gemors op die kombuisvloer nie.”

Bybelvers: Uit die Bybel@ouens – Hennie Stander

Gen 1:26 Toe het God iets baie spesiaals gedoen. Hy het gesê “Ek wil mense maak. Ek wil hê hulle moet die aarde oppas. Hulle moet sorg vir die visse en die voëls en die diere.” God het mense gemaak om die aarde op te pas.

Spreuke 6:6 Moet tog nie lui wees nie. Kyk hoe werk miere. In die somer vat hulle baie kos na hulle nes toe. Dan het hulle iets om te eet in die winter. Daar is nie iemand wat die hele tyd vir hulle sê om te werk nie. Hulle doen dit vanself.

Oorspronklik in Ek en my Kind, Somer 2013 gepubliseer

Contact

SAVF FAMNET,
41 Hospital Street, Arcadia, 0083
PO BOX 40526, Arcadia, 0007
012 325 3920
erheeder@savf.co.za
084 383 9417

Join us here

Upcoming events

No upcoming events.

Stay up to date

Enter your email address to receive notification of news and relevant updates.