Lielie en die Boelie

Lielie en die Boelie
Lome Louw Illustrasie: Helena van der Nest

Lielie is vroeg wakker, want dit is vandag haar klas se uitstappie na die Dieretuin toe. Sy is so opgewonde. Hulle hoef nie vandag hulle tasse skool toe te vat nie, net ‘n kospakkie.  In die kospakkie moet ‘n broodjie en ‘n bottel gevriesde water wees.  Vandag mag Mamma ook vir haar ‘n verrassing inpak.  Lielie weet sommer klaar wat dit gaan wees.  Smarties!  Dit is haar gunsteling!

Sy trek vinnig haar uitstappieklere aan.  Sy borsel haar hare en maak dit in twee parmantige poniesterte vas.  Sy sit sonbrandolie aan en sit haar uitstappiehoed op haar kop.  In die kombuis staan haar kospakkie op die tafel.  Mamma het ‘n bloedrooi hart met haar naam op op haar kospakkie geplak.  Onder-aan het Mamma ‘n briefie geskryf:

“Geniet jou uitstappie Lielie.

Lief vir jou.

Mamma. Xx”

Lielie gaan sit by die ontbyttafel.  Sy bid: “Dankie Jesus vir hierdie nuwe dag.  Dankie dat ons uitstappie toe mag gaan en dankie vir Mamma wat vir my so lief is.  Pas ons asseblief vandag op dat niemand sal seerkry nie.  Amen.”

Mamma staan in die kombuisdeur.  ‘n Glimlaggie verskyn om haar mondhoeke. “More, Lielie-kind. Hoop jy het lekker geslaap.  Is jy reg vir jou uitstappie?”

“More, Mamma.  Ek het baie lekker geslaap en is reg om skool toe te gaan.  Mamma moet asseblief gou klaar maak.  ASSSSEBLIEFFFF.      Dankie vir my kospakkie, Mamma.” Lielie gee vir Mamma ‘n stywe drukkie.

“Jy weet seker wat jou verrassing is.  As jy vandag ‘n geel Smartie eet, dan dink jy aan al die gelerige diere, soos kameelperde en leeus.  As jy vandag ‘n bruin Smartie eet, dan dink jy aan bokkies en wilde honde.  As jy ‘n groene eet, dan dink jy aan die reptiele soos slange en krokodille.  As jy ‘n bloue eet dan dink jy aan al die diere wat in of naby water lewe soos pikkewyne en visse.  Dit is wonderlik hoe God alles so verskillend gemaak het, maar ons almal deel een aarde,” sê Mamma.

“Maar wat van die pienk en rooi Smarties, Mamma?” vra Lielie.

“Wel, daar gaan miskien maatjies saam met jou wees wat nie ‘n verrassing in hulle kospakkies het nie.  Deel die pienkes met die dogtertjies en die rooies met die seuntjies,” antwoord Mamma.

By die skool het Juffrou al die maats getel en vir elkeen ‘n nommer gegee.  Hulle moes in hulle nommer-volgorde in die ry staan.   Juffrou het verduidelik dat sy makliker sal agterkom as iemand weg is as hulle so staan.  Sy het ook mooi vir hulle verduidelik om naby haar te bly en nie van die paadjie af te dwaal nie.

Willie staan voor Lielie.  Hy lyk nie baie opgewonde nie.  Lielie kan dit nie verstaan nie. “Hallo, Willie. Is jy nie opgewonde om al die diere te sien nie?  Ek kan nie wag nie!” gesels Lielie.

“Los my, Meisiemens!” Willie stamp vir Lielie dat sy struikel en uit die ry val.

Juffrou draai om.  Sy kyk vieserig na Lielie en Willie en sê: “Almal moet vandag saamwerk as ‘n span, asseblief.  Lielie, hou by die reëls en bly in jou ry.”

Lielie hou nie daarvan as Juffrou met haar raas nie.  Sy byt op haar onderlip om die trane te keer. Hoekom moet Willie ‘n boelie wees?

Toe hulle in die bus klim, sorg Lielie dat sy agter Willie sit.  Sy gaan hom vra wat makeer; hy sal haar vertel en dan deel hulle haar Smarties.  Dit kan tog nie so erg wees om jou Smarties met Willie die Boelie te deel nie.

Die bus begin te ry.  Lielie buk vorentoe en tik aan Willie se skouer.  Hy ruk hom vererg om.  “Al weer jy, Meisiemens.  Los my net uit!”  Willie praat so hard dat die hele bus stilbly.  Almal se oë is nou op Lielie.  Lielie kry skaam en skuif terug in haar sitplek. Hoekom moet hy so ‘n buffel wees?

Die bus stop uiteindelik voor die Dieretuin.  Almal stoot en stamp om eerste uit te klim.  “Dit help nie julle druk nie, ons gaan in ons nommer-volgorde staan,” herinner Juffrou die maats.  Willie is aspris. Hy steek sy voet dwars oor die trappie en pootjie vir Lielie toe sy wil uitklim.  Lielie val teen die trappies af dat haar kospakkie doer trek.  Die hartjie op haar kospakkie skeur toe Willie daarop trap. “Hoop jy sal nou ophou om my te pes, Meisiemens,” sê Willie met ‘n grinnik.

Lielie se knieg en elmboog brand, maar nie so erg soos haar trane nie.  Juffrou help haar op en gee haar hand ‘n drukkie.  “Toemaar Lielie-kind, Willie is seker omgekrap omdat hy nie ‘n lekker kospakkie het nie.  As ‘n mens se eie hart seer is, maak jy gewoonlik ander se harte ook seer.  Het jy dit geweet?” vra Juffrou.

Lielie dink ‘n oomblik daaroor na en besef wat aangaan.  Willie is kwaad en vies vir almal wat ‘n kospakkie het, want hy het nie een nie.  Sy weet skielik dat sy hart dalk so stukkend is soos die hartjie op haar kospakkie.

“Ek is nou-nou weer terug, Juffrou, ek dink my knieg kort ‘n pleister, maar ek het gou ‘n sakie om af te handel,” antwoord Lielie terwyl sy reguit na Willie toe hardloop.

Lielie gaan staan voor Willie. Haar hart klop woes, maar sy weet as Jesus in jou hart is, is jy nie bang vir boelies nie.  “Willie, ek weet jy het nie ‘n kospakkie nie.  My ma het vir my ‘n ekstra broodjie ingepak.  Sal jy ook my Smarties met my deel, want ek hou nie daarvan om dit alleen te eet nie?” Lielie se stem bewe effens, maar haar oë kyk reguit in Willie se oë.

“Jy is die braafste meisiemens in ons klas. Niemand het al ooit 3 keer na my toe terug gekom nie, nie eers die seuns nie.  Ek is jammer ek het jou in die moeilikheid by Juffrou laat beland en kyk hoe lyk jou knieg!  Hoekom wil jy juis jou pakkie met my deel?” vra Willie.

Lielie weet sy moet nou die regte antwoord gee.  Dis nou of nooit.  Sy dink aan haar ma se woorde oor die Smarties. “As jy ‘n geel Smartie eet, Willie, proe hy regtig anders as die groene?” vra Lielie.

Willie is ‘n bietjie deurmekaar.  “Nee, dis eintlik dom om almal verskillende kleure te maak, want almal proe dieselfde.  Maar wat het dit met die prys van eiers te doen?”

“Jy sien, Willie, toe God ons gemaak het, het Hy ons gemaak om goed te wees.  God het niemand gemaak om sleg te wees nie.  Jy kies self of jy goed of sleg, kwaai of vriendelik wil wees.  Ons almal lyk min of meer dieselfde aan die binnekant, maar ons almal lyk anders aan die buitekant, net soos die Smarties.  Willie, kies vandag om my Smarties met my te deel asseblief!” pleit Lielie. 

Niemand het dit nog ooit so mooi vir Willie verduidelik nie.  Dit is waar.  Hy kies self of hy goed of sleg, kwaai of vriendelik is, want aan die binnekant lyk hy min of meer net soos al die ander kinders. “Lielie, ek het dit nog nooit gedoen nie, maar ek sal jou kospakkie met jou deel.”  Willie gee vir Lielie ‘n glimlag en hy voel hoe sy hart ligter word en al die kwaaiheid verdwyn.

Lielie glimlag terug vir Willie.  Sy weet sy het ‘n nuwe vriend gemaak.

“Dankie, Jesus, vir my Smarties en dat U my die moed gegee het om met Willie te praat. Amen,” bid sy in haar gedagtes terwyl sy en Willie agter mekaar in die ry stap en na al die Dieretuin se diere kyk.

Bybelvers: Uit die Bybel@ouens – Hennie Stander

1 Kor 13:1 Die heel belangrikste ding wat ons moet doen, is om mekaar lief te hê. As ek iemand nie liefhet nie, is ek soos ‘n klomp leë blikke wat teen mekaar kap. Dit maak wel ‘n groot lawaai, maar dit beteken vir niemand iets nie.

1 Kor 13:4-5 As ‘n mens regtig lief is vir Jesus en vir mense, dan:

Sal jy nie iemand sleg behandel wat almal irriteer nie

Sal jy altyd gaaf wees met mense

Sal dit nie vir jou sleg wees as ander mense dinge het wat jy nie het nie

Sal jy nie oor jouself loop en spog nie

Sal jy nie te veel van jouself dink nie

Sal jy ander mense nie sleg behandel nie

Sal jy nie selfsugtig wees nie

Sal jy nie oor elke ding kwaad raak en dan net wil stry of baklei nie

Sal jy nie altyd terugdink aan dit wat ander verkeerd teen jou gedoen het nie

1Kor 13:6-7 Iemand wat regtig vir ander lief is, is hartseer as daar verkeerde dinge met ander mense gebeur. So iemand is net bly as mense doen wat God wil hê hulle moet doen. Mense wat lief is vir ander, sal altyd probeer om hulle te beskerm. Hulle sal ook altyd net die mooiste dinge van ander mense glo. Hulle is altyd seker dat ander mense net mooi dinge sal doen. Mense wat so vol liefde is, verdra dit as ander mense hulle sleg behandel.

Oorspronklik in Ek en my Kind, Herfs 2020 gepubliseer

Contact

SAVF FAMNET,
41 Hospital Street, Arcadia, 0083
PO BOX 40526, Arcadia, 0007
012 325 3920
erheeder@savf.co.za
084 383 9417

Join us here

Upcoming events

No upcoming events.

Stay up to date

Enter your email address to receive notification of news and relevant updates.