Kedi Bashir
Aan die begin, toe die inperking begin het, en ek tuis moes werk, het ek gewonder hoe ek my werk sou klaarkry. Ek was gespanne, want ek het gewonder hoe ek my take elke dag sou baasraak, plus my seuns, veral die kleintjie, wil niemand anders behalwe vir my hê nie. “Nee,” het ek vir myself gesê. “Dink eerder positief as negatief oor die kwarantyndae, want dit is in die beste belang van almal.”
Toe besef ek dat die kwarantyndae van die beste dae van my lewe is, want ek kon my seuns beter leer ken. Ek het myself altyd afgevra wat my oudste seun se talente of belangstellings is. Ek het hom altyd saam met my suster sien sing. Hy hou ook daarvan om opvoedkundige speletjies te speel op die foon, fotosessies, en dis al. Maar gedurende die kwarantyndae het ek gesien dat hy ook daarvan hou om te bak.
Ek het my jongste seun se eerste twee tande gesien; ek kon hom nuwe woorde leer en om te sien hoe hy die woorde herhaal was ongelooflik. Ek kan nie eens beskryf hoe ek gevoel het nie. Ek kon hom vorentoe sien kruip vir die eerste keer, want voorheen het hy agtertoe gekruip. Ek kon hom sien opstaan en loop met behulp van die meubels. En ek kon sy talente en belangstellings ook raaksien, hy hou van sing en dans en om sokker te speel.

Oorspronklik in Ek en my Kind, Lente 2020 gepubliseer