Mooi se begin

Amanda van België

Hy praat ‘n mooi Nederlands en slaan gemaklik oor na Farsi (Persies). Die Iranese chirurg se werk is om stukkende lippies en verhemeltes te herstel, hier en ook in Iran. Dikwels doen hy dit nog in Iran verniet ook wanneer die ouers nie geld het nie. Met die grootste toewyding werk hy aan elke mondjie en verhemelte asof dit sy eie kind is. En of hy nou hierdie ‘lelike’ mond-en-verhemelte-glipse van die natuur raaksien, antwoord hy ‘n besliste néé, want die meeste van hulle het die mooiste oë gekry, sodat ‘n mens verdwaal in die mooi oë en nie die stukkende lippies raaksien nie. En dit is so.

Haar oë is soos donker sjokolade in ‘n koppie ietsie groter as toe sy gebore is. (Dis nou ons Dolla-kind.) Die bos donker hare is gewoonlik happerig en punterig want as dit by hare kam en sny kom, is die wêreld op sy kop. ‘n Bokstert is ‘n vinnige oplossing of ‘n haarband as Pa die dag moet sorg. En oral waar hare moet wees, is báie. Gelukkig het broer Handsome die min-haregene gekry.

Die glimlag-bek is altyd nat en die tande sou beter ‘presteer’ het met draadjies. Die groot spasie voor verdeel hulle in links en regs en verder bondel hulle om mooi reg te staan. Wit is hulle nie, want tandepoets eindig in lippe op ‘n stywe strepie getrek en tandepasta oral behalwe agter die strepie.

Wanneer verkoue sy opwagting maak, kuier die tong in die een neusgat en loop ék met blink rangstrepe op die mou soos sy afvee.

Naels-knip eindig in nerf-af getimmerde kneukels om van die geirriteerheid ontslae te raak en is dan lank en vuil totdat ek weer die moed êrens vandaan haal om weer te probeer. 

Die boggeltjie laat haar oud lyk. Maar die maag is nou dié ding wat énige glansbladmeisie sal begeer – stewig, plat en gespierd, want sy skiet altyd soos ’n knipmes regop in die bed, van baba-tyd af al.

Hoe kan ek vir hierdie meisiekind van ons sê sy is mooi wanneer ons wêreld so anders kyk en sê? Siek-maer is steeds normaal,  rekenaarprogramme filtreer en maak glad-mooi en inplantings en spuitjies maak begeerlik-rond, terwyl die meeste meisiekinders knoppies uitslaan van skaamte.

Ons Dolla weet nie van saggies nie – alles word met oorgawe gedoen: lag hard, huil hard, protesteer hard en tot Handsome se groot vermaak, ‘burp’ hard en nogal op versoek ook. Sy praat nie mooi woorde waaroor mense hul verwonder nie. Haar handvol klanke word hard ingespan en ignoreer werk nie, want dan staan sy haar staan en word die hande saam met die klanke ingespan. En dis hard, soveel so dat ons bedeesde kultuur altyd omkyk en die kinders staar. Hulle staar openlik, nie oor haar ‘mooigeit’ nie, maar oor haar ‘andersgeit’.

Al het daar ‘n dingetjie fout gegaan in die ateljee, bly sy enig, uniek. Ons is lief vir die koddige figuurtjie met die warm hart vir almal, haar uitspattige humor en kwesbare onskuld. Sy staan haar plek in alle eenvoud vol en leef met hart en siel. Sy is só mooi! Ons harte het eerste gesien en toe volg die oë, net soos by die Iranese chirurg. Hy sien ook met sy hart.  Liefde maak mooi. Manlief sê sy is so mooi, hulle kan nie anders as om te staar nie!

Mooi begin nie by die gesproke of gedrukte woord of voorbladprentjie nie. Mooi begin vóór geboorte, in ‘n hart.

Oorspronklik in Ek en my Kind, Winter 2020 gepubliseer

Contact

SAVF FAMNET,
41 Hospital Street, Arcadia, 0083
PO BOX 40526, Arcadia, 0007
012 325 3920
erheeder@savf.co.za
084 383 9417

Join us here

Upcoming events

No upcoming events.

Stay up to date

Enter your email address to receive notification of news and relevant updates.