Ons moet weer kies

Deur Amanda van België

Die dun beentjies op blink hakke en knalpiek-hoed kom uitgewals met, “I voted DP and I’m not ashamed of it! And who did you vote for, Dearie?” Op my antwoord sê sy dis goed, want hulle vorm ’n koalisie. Die sekuriteitswag by die ambassade moet dadelik ’n foto van ons twee saam neem en dan is sy oppad terug Antwerpen toe en ek stap die straat oor. Suid-Afrika het gekies en nou is dit ons beurt in België.

Die bord het lank alleen by die ingang van ons dorp gestaan. Sy is seker desperaat vir stemme, het die man gesê en ons het gelag oor die vreemde verkiesingsbord – ’n bord in die vorm van ‘n hart met ’n glimlaggende blondine daarop. Ander borde het later bygekom, groenes, geles, bloues, rooies met keurig ingekleurde en gekamde kandidate wat energie, wysheid of rustigheid probeer uitstraal. Almal wedywer vir die mees sigbare plek langs die pad, lokkend met slim sêgoed. Laat my dink aan hoe Bella-hond rondom etenstyd ons probeer lok en omkoop met stert wat swaai en draaiende lyfie rigting kombuis toe, kosbak toe. 

Toe val die stopsel uit my tand. Om my steentjie by te dra teen die warmwordende aarde, stap ek die twee kilometer tandarts toe, gedagtig aan die spijbelende skoolkinders. Vir die 18de keer draai hulle stokkies op ’n Donderdag – ’n massa van honderde en soms duisende protesterende kinders met vlae, baniere en kreatiewe spreekwoorde, omdat die politisie nie vinnig genoeg werk maak van die aarde wat misbruik word nie. Soms moet ek wonder oor al die selfone wat gebruik word om dit alles te organiseer en dié wat Woensdagmiddae in klerewinkels kuier en met groot sakke inkopies uitstap…

Dan sorg die honderde trans-migrante, wat nie hier wil bly nie, omdat hulle dink Engeland gaan beter sorg, vir hitte onder die krae van die stadsvaders. Die busbestuurders wil nie meer by die stasie stop nie, want hulle word aangeval en so ook die reisigers. Hierdie bordjie harde koekies word van die een na die ander aangegee en almal kyk weg – nie lekker koekies nie. En dan skielik word alles oornag opgeruim: al die trans-migrante kry slaapplek in ou hotelle en die stadsvaders en die ‘politiek’ glimlag breed. Hulle het seker nie tyd gehad om dit vroeër te organiseer nie of die hotelle was nog net nie leeg nie.

Die radio praat politiek en die televisie hou onderhoude. Dis nie net die trans-migrante wat aggressief raak nie. Wanneer die gesprekspunte in ’n knoop raak, word daar met nyd en kritiek sommer vanaf die heup op die man en deesdae ook heelwat vrouens geskiet. En ons het ’n streng wapenverbod! 

Intussen kuier my tong steeds by die gat in die tand. Ek stap verby die hartjie-blondine wat intussen nie meer alleen staan nie. My oog vang die blink en ek stap terug. Wraggies ’n spieëltjie in die vorm van ’n hartjie en ’n klein flikkerliggie met onderaan, ‘een hart voor iedereen.’ Gwenny het ’n hart vir my, vir die transmigrant uit Sirië, vir die stadsvader wat skielik ’n blink idee gekry het, vir ou tannie vir wie die ouetehuis onbekostigbaar is, vir meneer Google wat werk verskaf en dus nie baie belasting hoef te betaal nie, vir Juffrou wat haar bes doen om die reënboogklas in Vlaams te leer lees en skryf en vir Boer op sy land vir wie die reën te laat gekom het.

Ek knipoog vir Gwenny-hartjie toe ek die twee kilometer terug huistoe stap – gat toegestop.

Op haar webtuiste lees ek van hierdie positiewe vrou wat regtig vir mense en hulle probleme omgee, omdat die lewe kort is. Iemand wat luister, glimlag en moed inpraat. Haar leuse is om saam óp te bou, die lewe vir almal, ongeag die herkoms, beter te maak, want om uit die hart te leef en goed te doen, laat mense glimlag.

Gwenny met haar hartsbeleid op ’n hartjies-bord laat my glimlag en ek wíl ook sommer goed doen sodat ander kan glimlag. Miskien het ons dít meer nodig in ons harde wêreld. Ek hoop sy word president.

Oorspronklik in Ek en my Kind, Somer 2019 gepubliseer

Contact

SAVF FAMNET,
41 Hospital Street, Arcadia, 0083
PO BOX 40526, Arcadia, 0007
012 325 3920
erheeder@savf.co.za
084 383 9417

Join us here

Upcoming events

No upcoming events.

Stay up to date

Enter your email address to receive notification of news and relevant updates.