Mamma, lees vir my ‘n storie?

Petra Marais

‘n Peuter, 18 maande tot 3 jaar, is die tyd van “Terrible Two’s” en BESIG-wees!

Die Peuter se emosies gaan op en af. Een oomblik is die outjie nog vrolik en opgewek en die volgende oomblik snik hy hartverskeurend oor ‘n speelding wat weg is.

Vir ‘n peuter is die alledaagse leefwêreld ‘n baie interessante plek vol nuwe ervarings.  Van stilsit is daar nie veel sprake nie – daar is eenvoudig net te veel nuwe dinge om te ontdek!

In hierdie fase gaan jy vinnig agterkom watter soort storieboekies jou kind geniet.

Peuters geniet die fisiese en emosionele nabyheid wanneer Mamma/Pappa vir hom/haar ‘n storie lees – dit is baie spesiale kwaliteittyd!.

Lees stories waarin die hoofkarakter sekere vaardighede baasraak.

Stories moet nog steeds kort wees.

Vervang soms die hoofkarakter se naam met jou peuter s’n. Hulle kan hulleself in die karakter se ervarings en oorwinnings inleef.

Die stories moet binne die leefwêreld van die Peuter val, sodat hy/sy maklik daarmee kan identifiseer, bv fietsry, val en dan bemeester.

Een goue reël is dat die stories vir ‘n peuter beslis ‘n gelukkige einde moet hê! Spanning kan effens opbou en emosies kan maar wissel, maar die einde moet altyd mooi en goed wees om weer die peuter se eie emosies tot kalmte te bring.

Storieboeke se illustrasies kan ook nou ‘n bietjie meer detail bevat – dit fasineer hulle!

Leer jou kind die waarde van boeke en hoe om dit reg te hanteer. Wees self ‘n voorbeeld deur nie boeke sommer op die vloer te laat lê en daarop te trap nie, maar in die boekrak te bêre. Dit kan jou Peutertjie se spesiale werkie wees om die boekie weer op die regte plek te gaan bêre, wanneer julle klaar gelees het.

Nadat julle ‘n storie saamgelees het, kan jy jou Peutertjie vra om weer die boek van voor af deur te blaai en vir jou met behulp van die prentjies die storie te vertel. So kan jy vasstel hoeveel van die storie jou kind gesnap het en wat hy/sy die meeste geniet het. Wanneer jou Peutertjie die boek deurblaai, kan jy ook help en wys hoe om mooi te blaai, sodat die boekie se bladsye nie seerkry en skeur nie.

OP DIE BOEKRAK:

☺        Eerste 100 diere. (Lapa Boeke)

☺        Otto gaan sirkus toe. (Eric Hill)

☺        Loeks die vark. (Martine Osborne & Axel Scheffler)

☺        Wat is jy Kartoffel? (Marga Jonker & Alzette Prins)

☺        Daar’s iets onder my bed. (Steve Smallman)

☺        Slaaptyd sonder Teddie. (Jessica Meserve)

☺        Wat doen ‘n beer? (Lapa Boeke)

☺        Mylpaal-reeks boeke: “Die Mangelvanger” en “‘n Boetie vir Natasha” (Martie Kruger)

Aangepas van die artikel wat oorspronklik in Ek en my Kind, winter 2012 gepubliseer is.

Contact

SAVF FAMNET,
41 Hospital Street, Arcadia, 0083
PO BOX 40526, Arcadia, 0007
012 325 3920
erheeder@savf.co.za
084 383 9417

Join us here

Upcoming events

No upcoming events.

Stay up to date

Enter your email address to receive notification of news and relevant updates.