Wenke vir die Langpad, ‘n lang wag of verveling tuis.

Ek en my Kind Redaksie

Omskep vervelige, lang sittye in heerlike gesins-saambindtye omskep!

  1. Noot vir noot

Elkeen kry ‘n kans om ‘n liedjie te neurie en die ander moet raai wat hy sing. Geen kritiek op hoe daar gesing word nie!

2.Magneetspeletjies

Versamel en speel die verskeidenheid magneetspeletjies beskikbaar: Ludo, Slangetjies en Leertjies, skaak, battleship, ens.

3.Karkrieket

Hierdie speletjie is op krieket gebaseer in die sin dat ‘n mens lopies aanteken en dat paaltjies val. Voertuie wat in die teenoorgestelde rigting ry, sorg vir die aksie. Sekere skaarser voertuie, bv die twee tipes luukse Duitse motors, sorg vir ‘n “4” of ‘n “6”. ‘n Ander tipe voertuig, bv ‘n minibus of ‘n trok laat ‘n lopie val. Alle ander voertuie wat verbykom, sorg vir ‘n lopie. Besluit vooraf hoeveel elke voertuig tel. Laat Pa eerste in wees en roteer dan kloksgewys. Almal tel saam hoeveel gewone voertuie verbykom, plus die viers en die sesse. Die oomblik as die minibus of trok verbykom, is die speler uit. Maak beurte en as julle weer by Pa kom, hervat hy sy telling.

4.Reis/Wagsak

Hierdie kan nogal ‘n groot lekkerte wees: Kry ‘n sak of kartondoos waarin goed gebêre word en slegs vir die langpad uitgehaal word. Sit allerhande lekker doendinge daarin, bv inkleurboeke en kryt, skryfboeke, tekenboeke, penne, potlode, klein legkaarte of speletjies, aktiwiteitsboeke of van die ander items wat hier genoem word. Gompapiere van verskillende kleure, oulike stomppuntskêrtjies, gomstiffies en glitterglue is ook heerlik veelsydige items vir die reissak. Sorg dat daar met elke reis iets nuuts is om te doen. Maar moenie wegdoen met die oue nie. Daardie lekker herontdek van iets wat die vorige keer die aandag gehou het, is die moeite werd en sal altyd onthou word.

5.Nommerplaatwoorde

Nommerplate met drie letters en drie syfers werk goed, maar die nuwer kombinasies kan ook gebruik word. Maak beurte en kyk hoeveel woorde kan julle maak met die drie letters in daardie volgorde – jy voeg net ander letters tussen-in. Bv die nommerplaat is BRK 398 GP. Gebruik BRK. Dit kan “brak, gebruik, breek, brokkel” en wie weet wat nog alles word.

6.Plakboek

Knip vooraf grappies, kort stories of aanhalings en raaisels uit tydskrifte en koerante en plak dit in ‘n plakboek. Dit sorg nogal vir lekker lag. Die maak van so ‘n plakboek self kan ‘n lekker vakansie-aktiwiteit wees en weer daarna vir genot sorg.

7.Ek sien ietsie met my kleine ogies

Hierdie ou bekende speletjie bly ‘n treffer. Elkeen kry ‘n beurt om te sê: “Ek sien ietsie met my kleine ogies wat begin met ‘n …” Hy gee dan die eerste letter van die item, bv “B.” Almal raai totdat hulle die “Berg” of “Boom” of wat ook al, reg raai. Met kleiner kinders kan ‘n mens in kleur speel, bv: “Ek sien ietsie met my kleine ogies wat groen is”.

8.Maak stories

Hier is verskeie moontlikhede:

  • Gee vir jou kinders ‘n tema en sê hulle moet ‘n storie in prentjies in hulle tekenboek teken. Hulle kan dit ook in hulle skryfboek skryf.
  • Vertel saam ‘n storie. Elkeen kan een sin van ‘n storie vertel. Die volgende een gaan aan met die storie deur sy eie sin aan te las. Dis nogal pret om te sien waar ‘n storie kan gaan draai!
  • Gee vir elkeen ‘n A4-papier. Draai dit dwars en vou dit 5 keer konsertinastyl. Hou dit gevou. Elkeen moet op die eerste stukke ‘n lidwoord skryf, dit om vou en aangee. Almal skryf dan die naam van ‘n soort dier of mens. Vou om en stuur aan. Nou skryf elkeen ‘n werkwoord neer. Vou om en stuur aan. Skryf nou ‘n voorwerp neer. Vou en stuur aan. Nou moet jy ‘n plek neerskryf. Stuur aan en vou oop. Elkeen lees nou die sin voor hom. ‘n Normale sin sal wees: “Die perd eet kos in die stal.” Nou kan hierdie deurmekaar sin as volg lees: “Die vark slaap motor in die skool!”

9.Nommerplaatspeletjie

Kyk wie kan die vinnigste en korrekste die drie syfers op ‘n nommerplaat bymekaartel! (Wees tog die juniors genadig!)

10.Plakkers en plakkerboeke

Dalk iets vir die reissak: ‘n nuwe plakkerboek en ‘n paar velletjies plakkers kan hulle lank besig hou.

11.Bou padkaarte

Neem vooraf ‘n vel papier waarop jy al die dorpe waardeur julle ry, met kolle aandui en dan met strepe verbind. Probeer dit in ooreenstemming met die afstande op die werklike kaart teken. Telkens as julle verby ‘n dorp ry, plak langwerpige gompapier op die pad wat verby is en ‘n ronde gompapier of ‘n plakker op die dorp se kol. Dit gee die kinders ‘n idee van afstande en help hulle om te sien hoeveel van die reis verby is en wat oorbly.

12.Ontdek die land oppad soontoe

Betrek jou kinders om saam met jou vooraf te kyk watter besienswaardighede alles langs die pad is. Gaan kyk na een of meer sulke plekke as ‘n beenrekker en ook ‘n goeie opvoedkundige geleentheid.

13.Lekker leestyd

Pak tog lekker storieboekies in vir voorlees en vir selflees. Die groter kinders geniet ‘n tydskrif volgens hulle belangstelling. Hou dit geheim, anders lees hulle dit klaar voor die reis begin het!

14.Wanneer eet ons, Ma?

Ter wille van veiligheid en gemak stop almal deesdae by die eenstopvulstasies en eet in die restaurant. Dieselfde plekke het gewoonlik ook piekniektafels, waar dit baie rustiger is en die kinders ‘n bietjie kan rondhardloop voordat hulle weer moet sit. Pak ‘n lekker piekniekmandjie en ‘n fles koffie en doen dit soos in ons kinderdae. Daar is natuurlik ook die geleentheid om langs ‘n waterval of op ‘n rivier se wal of in ‘n museum se skaduwee die mandjie uit te pak.

Maar die ewige honger pak hulle ‘n halfuur later weer! Sorg dat jou kinders ‘n goeie dosis gesonde, vullende kos inkry. Berei vooraf bykomend vir elkeen 2 verrassingspakkies voor. Selfs dit bly redelik binne perke van gesondheid. Energiestafies, droë vrugteskyfies, ‘n klein stukkie droë wors, jellielekkers, peppermente en natuurlik genoeg ysies om die dors vir lank aanmekaar te les. Die pakkies word so uitgedeel dat daar kou-kou nog by die eindbestemming afgeklim word.

Lekker voorberei, lekker reis en lekker wag! En as julle tuisbly, laat dit ‘n pret-tyd wees.

Aangepas uit die artikel wat oorspronklik in Ek en my Kind, Herfs 2012 gepubliseer is.

Contact

SAVF FAMNET,
41 Hospital Street, Arcadia, 0083
PO BOX 40526, Arcadia, 0007
012 325 3920
erheeder@savf.co.za
084 383 9417

Join us here

Upcoming events

No upcoming events.

Stay up to date

Enter your email address to receive notification of news and relevant updates.