Die Kinderoppasser dra blou handskoene

deur Amanda van België

Ek en Mangoed moes êrens heen vir ’n afspraak wat nie lank sou duur nie. Dit is nou een van daardie afsprake waarby dit gewoon net gemakliker sou wees as ons Dolla nie saamgaan nie. Gewoonlik gaan sy saam waarheen ons ook al gaan. Ons was nog nie lank in Anderman se land nie en het nog nie geweet wie om te vra vir die kort oppas nie.

Nouja, veertienjarige Handsome moes toe instaan, gelukkig maar gewillig ook.

Met ’n vinnige draai op die toilet en ’n skoon doek verder, is Dolla doodgelukkig om by haar boeta te bly. Want hulle hou van mekaar. 

Met mooi instruksies van wat mag en wat mag nie en ons nommer (wat hy in elk geval ken), net in geval daar ’n noodsituasie sou opduik, is ons by die voordeur uit.

Ons het nog nie voet op die metro gesit nie, toe die noodoproep kom…

“Ma, help! Julle moet vinnig kom!”

Ons wou nog meer vra, maar die angs in die stem was genoeg om te sê daar’s nou ’n groot krisis en dat ons asseblief net gou moet maak. Ek en Mangoed se oë sê dieselfde – onmiddelik terug, vergeet die afspraak.

Dadelik klop my hart in my keel en al die aaklige moontlikhede volg mekaar soos die bedrywe van ’n nagmerriedrama op. Gelukkig was ons nie te ver nie. Ek kan nie onthou wie was eerste by die deur nie.

Die voordeur klap toe en ons dreun die houttrappe op na die vierde vloer waar ons woonstel is.

Ons wou nog klop. Die deur vlieg oop…

Ons kyk vas in groot pieringoë – skrik en verligting omhels mekaar en blou, rubber-skottelgoedhandskoene ‘hensop’ in die lug. Dan kom Dolla ook giggelend nader – altyd bly oor mense wat aanklop! Die onderlyfie tot by die voete, soos sy die wêreld ingekom het en die res van die klere netjies van die some af omgevou en om die nek geknoop – veilig.

Ons is stom.

“Ma, sy’t in haar broek gepoef en ek kry nie haar boude skoon nie!” Die angs nog duidelik in die stem. “Ek het probeer…!”

En Dolla lag baie bly omdat ons weer terug is.

Ek het vergeet om te sê dat sy ’n doek aan het en dat wat ookal binne die doek gebeur maar so kan bly totdat ons nou-nou weer terug is.

‘n Seëngebed vir jou

Bron onbekend

Ek seën jou met die wete dat jou Abba Vader jou lief het, ongeag wat jy gedoen het.
Ek seën jou met die wete dat Hy jou identiteit ken, Hy het jou gevorm, Hy weet hoe jy dink, waarom jy so optree, Hy weet alles van jou af, niks kan jy vir Hom wegsteek nie.

Ek seën jou gees vandag deur die bloed van die Lam.
Ek seën jou dat jy deur die Heilige Gees in al Sy weë geleer word.
Ek seën jou om gekoester te word in Sy liefde.


Ek seën jou in jou vormingsfase, soos Hy klaar maak wat Hy in jou begin het.
Ek seën jou om oop te wees & gereed te wees om geleer & gelei te word deur die Heilige Gees.
Ek seën jou gees met genesing sodat jy jou gebrokenheid kan oorkom & in volkome genesing kan leef.
Ek seën jou om te weet waarvoor God jou geroep het & dat jy daarin sal wandel.
Ek seën jou met die salwing van liefde & vrede wat bedoel is vir jou & dat jy daagliks deur God self gekoester & geleer sal word.


Ek seën jou met die vreugde van guns in God se oë en ook in die oë van ander.
Ek seën jou met mense wat om jou inskuif & jou hande oplig en ‘n pad saam met jou begin stap.
Ek seën jou met Goddelike vriendskappe, mense wat jou sal aanmoedig & jou droom met jou sal deel.
Ek seën jou met ‘n sagte hart, ‘n hart vol liefde.
Ek seën jou met God se wysheid in elke besluit van jou lewe.

Ek seën jou met God se leiding, Sy guns & Sy genade oor jou.
Ek seën jou talente, jou gawes en jou verhoudings.
Ek seën jou finansies, jou besigheid & jou denke.
Ek seën jou gees, jou siel & jou liggaam.
Ek seën jou lewenstaak met vreugde, harmonie & liefde.
Ek seën jou huwelik, jou gesin & jou drome.
Ek seën jou om jou identiteit in Christus te vind.

Ek seën jou met die wete dat jy ‘n Vader het wat jou innig lief het; dat niks wat jy kan doen Hom liewer kan maak vir jou nie, ook nie minder nie.
Ek seën jou om daagliks Sy voorsiening te beleef, Sy totale beskerming & Sy doel vir jou lewe.
Ek seën jou met die wete dat niks in jou lewe, verlede of toekoms jou kan skei van die liefde van God nie.
Geseënd is jy, Geliefde van God.

Oorspronklik in Ek en my Kind, Lente 2017 gepubliseer

Contact

SAVF FAMNET,
41 Hospital Street, Arcadia, 0083
PO BOX 40526, Arcadia, 0007
012 325 3920
erheeder@savf.co.za
084 383 9417

Join us here

Upcoming events

No upcoming events.

Stay up to date

Enter your email address to receive notification of news and relevant updates.