DIE WIT KOEVERT

DIE WIT KOEVERT

Lindy Jordaan

‘n Paar jaar gelede lees ek die mooiste storie oor ‘n wit koevert.

Mike het die hele idee van Kersfeesgeskenke koop, verpes. Hy het op daardie stadium al genoeg kouse as geskenke gekry en het lankal nie meer die dasse van vorige jare gedra nie. Sy vrou het geweet dat haar man ‘n passie vir stoei gehad het en hy het opgelet dat ‘n span teen wie haar seun gestoei het, goed was, maar nie die nodige toerusting gehad het nie. Sy het vir die span die nodige toerusting gaan koop en ‘n koevert met die verduideliking van wat sy gedoen het, onder die Kersfeesboom vir Mike gelos. Lank na Mike se dood het sy vrou en kinders die tradisie voortgesit en vir hom ‘n wit koevert onder die boom gelos met ‘n boodskap van iets goeds wat hulle namens hom gedoen het.

Dit het my self ‘n paar jaar gevat om die tradisie by ons huis te implementeer, maar verlede jaar het ek en my man dit vir mekaar gedoen. Dit was heerlik om nie te soek na die perfekte geskenk vir mekaar nie, maar eerder te soek na ‘n geleentheid om iemand anders te help. Dit voel vir my baie nader aan die eintlike bedoeling van Kersfees.

Ons kinders is egter nog glad nie op dieselfde bladsy nie en hulle wenslysies is gewoonlik redelik lank en elke item daarop het gewoonlik ook ‘n redelike prys daaraan gekoppel.

Die probleem waarmee baie van ons egter na 2020 worstel, is dat finansies ‘n redelike groot uitdaging geraak het. Om sommer net wenslysies werklikheid te maak, is nie meer ‘n opsie nie.

Ek kan seker ‘n hele paar voorstelle maak oor wat ‘n mens vir mekaar kan maak as jy nie geld het nie, maar dit voel vir my dat elke persoon se wenslysie verskil na gelang van geslag en ouderdom. Ek het vinnig by Google gaan loer en as ‘n mens “what to give for Christmas when you are broke” intik, kom daar 118 000 000 voorstelle vir webblaaie op. Elke webblad het ten minste 10 voorstelle. Aan idees is daar dus nie ‘n tekort nie.

My voorstel is om as gesin vergadering te hou. Verduidelik vir die kinders dat die geld vir luukshede hierdie Kersfees ‘n bietjie min is en dat dit die ideale geleentheid is om weer op die ware betekenis van Kersfees te fokus. ‘n Goeie plan is om geskenkbewyse vir mekaar uit te skryf. As ‘n mens vir die ander persoon vra wat hy graag sou wou hê dat jy vir hom doen, sal almal iets kan uitdink. Pappa is dalk nie lus om elke week die asblik buitentoe te vat nie; jou boetie sal wat wil gee as hy dalk een van sy huistakies vir jou kan gee. Vir myself sal dit die grootste geskenk wees as ek elke tweede week vir 2 maande lank saans na ‘n warm bad in my eie bed ‘n 10 minute voetmassering kan kry.  (Hoop my kinders lees hier!)

Die geskenkbewyse is ‘n goeie idee vir jou eie gesin, maar as die geld min is, is dit ook ‘n goeie plan om op ander mense te fokus. My vriendin wie se man al ‘n paar jaar sonder werk is, bak die lekkerste koekies. Dit is hulle enigste inkomste. Een Kersfees het my ma die koekies laat verpak in klein pakkies van 5 koekies elk. Sy en my sussie se twee kinders het die pakkies aan elke inwoner in haar ouetehuis gaan uitdeel. Die dankbaarheid op ‘n tannie se gesig as sy die deur oopmaak en die twee mooi kindertjies sien en boonop koekies kry, is regtig soos die advertensie sê; “priceless”. Die geskenk het daartoe gelei dat ‘n klomp mense op ‘n gereelde basis gebak by my vriendin bestel. Dit is dus ‘n geskenk wat net aanhou gee en gee. Om die koekies saam as ‘n gesin te bak, gee nog ‘n lekker geleentheid vir ‘n saam-doen-ding.

Ek lees onlangs van ‘n man wat elke oggend ‘n 40-minute treinrit na een van sy drie werke moes onderneem. Hy en sy gesin het hulle huis, waarin hulle 17 jaar lank gebly het, saam met hulle twee karre verloor. Hy het elke oggend die 40 minute gebruik om n storie vir sy kinders te skryf. Die storie sou sy Kersfeesgeskenk aan die kinders gewees het, want daardie jaar was daar nie geld vir wenslysies nie. Die man was William Paul Young en die boek: “The Shack”. In Maart 2017 was daar al meer as 20 miljoen kopieë verkoop.

Mag jy dié Kersfees op ander mense fokus, bewus raak van die werklike bedoeling van Kersfees, kreatief raak sonder geld en jou eie “wit koevert” onder die boom kry.

Contact

SAVF FAMNET,
41 Hospital Street, Arcadia, 0083
PO BOX 40526, Arcadia, 0007
012 325 3920
erheeder@savf.co.za
084 383 9417

Join us here

Upcoming events

No upcoming events.

Stay up to date

Enter your email address to receive notification of news and relevant updates.