By Die Tandarts

deur Amanda van België

Daar’s ‘n verskil tussen die dokter en die tandarts se spreekkamer.

By die dokter kan ek rustig sit en wonder oor die ander pasiënte – die polisieman in sy netjies gestrykte uniform, die vrou met die gemmerkoekiekleur gesig wat met haar kop op haar man se skouer rus – sy is regtig siek, die blondekop met die pienk i-phone en die groterige vrou wat die wagkamer met haar persoonlikheid vul en

hardop wonder hoekom die dokter nie minder pasiënte sien nie, want dan hoef ons nie so lank te wag nie. Ek stem saam, want ek het nog nooit minder as ‘n halfuur gewag nie! (Darem ‘n lekker tyd om te lees.)

By die tandarts begin die marteling al in die wagkamer. Seker dié dat daar soveel mooi skilderye hang. Probeer ‘n mens se aandag aftrek van wat nog moet kom!

Ek sal graag met haar wil gesels. Dis nou die tandarts. Uitvra oor haar kuns en kinders en hoekom sy monde en tande gekies het. Maar ek lê daar – mond oopgesper totdat my mondspiere in spasma wil gaan en my kake sluit. (Miskien moet ek meer oop-mond lag om die spiere sterker te maak!)  Die gekrap-krap stuur koue rillings in my rug af en my mond wil-wil net toegaan. Ek moet konsentreer om my hande ontspanne op my skoot te hou. (Ek dink my duim is al pers geknyp.) Dan is daar nog die dun straaltjie lug en water om te toets vir gaatjies. Die pyn versprei so dat ek nie weet of dit net in my kop is en of dit in my hele lyf is nie. Sy gesels asof daar nie fout is nie. Sy hou seker van ’n monoloog, want ek lê nog steeds oopmond. Ek kan nie wag vir die oomblik wat sy sê: “dis al vir nou” nie en ek weet ek sien haar eers weer oor ‘n jaar.

My tandartservaring het positief begin. Nog met die vriendelike, Engelse dokter Anderson van die dorp, jare gelede. En toe was daar die Joodse doktertjie in Pretoria. Hy’t gas gebruik. ‘n Mens is oorspoel deur ‘n golf en neergeplaas in ‘n ander wêreld van bewuswees en sweef. Geen steek van ‘n naald waar die vloeistof  sy pad oopbeur en stoot deur die spierpad nie!

Ons laaste tandarts in Pretoria, Dokter Antoine, het ‘n toekenning gekry vir goeie pasiëntesorg en ek wou telkens vir hom nog ‘n medalje toevoeg vir innerlike genesing. Wanneer ons daar uitgestap het, het dit nie eers gevoel of  jy by ‘n tandarts was nie – geen stywe kaak, geen hanglip, geen vloeistoflek uit die hoek van jou mond as jy iets drink nie en geen pyn nie! So anders as die man wat twee van my verstandtande getrek het. Ek is seker hy het sy opleiding onder ‘n boom gekry en sy sertifikaat by ‘n strafkamp in die berge.  Hy’t loopgrawe gegrawe in klip en sand. Alles het gekraak en ek het gekreun. Die mond het herstel. Die res nie!

By ons Dolla se tandarts hier in Anderman-se-land, is daar altyd iets van als. Al is sy 20, gaan ons nog steeds saam tandarts toe. Sy kan nie praat nie.

Eers moet ons verby die Franse ontvangs kom. Ek haal my beste Frans uit en verstaan dan niks wat die effens-vriendelike vrou sê nie – natuurlik praat sy ook nie Engels nie en nog minder Nederlands. (Dankie tog vir die politiek! Deesdae is daar ‘n vrou wat alles kan praat – Frans, Nederlands en Engels!)

Dan moet ons wag. ‘n Mens het nie nodig om te lees nie. Die wagkamer is ‘n bietjie van ‘n teater want Dolla se tandarts is gespesialiseerd. Dis nou vir mense soos ons Dolla – rolstoele en waentjies, spalke en spoeg, begeleiers en moeë ouers, gebaretaal en meer dikwels as ooit, vriendelikheid.

Daar was die keer toe die Mevrou by almal in die wagkamer langs gegaan het en gewaarsku het teen die spioenasie op gewone burgers via die telefoon en internet. Ons moet saamstaan en praat daaroor, het sy gesê, maar nie met die polisie nie want ‘n mens weet nie wie om te vertrou nie. Almal het heelhartig saamgestem. Dolla het die een been oor die ander gevou en net gekyk.

En die ma wat die dag daar aangekom het met haar seun van, ek skat so by die 16 en duidelik, in ‘n wêreld van sy eie. Die diep stem het met die trappe opgekom. Hy het elke leë stoel in die wagkamer probeer. En Ma skuif maar saam om langs hom te sit waar sy kon, met al die baadjies, jasse en sakke. Dit was in die winter. Toe word hy geroep. Ma het opgestaan en aangestap, omgedraai en hom geroep. Hy het bly sit. Die student-tandarts het geroep. Hy het bly sit. Toe kom die aantreklike, Franse Madame Tandarts. Hy het opgespring, by haar ingehaak en met ‘n vrolike ‘Bonjour Madame’  is hulle die gang af. Ma verlig agterna met baadjies, jasse en sakke. Almal het geglimlag.

Toe is dit Dolla se beurt. Sy wip op, bly om Madame Tandarts te sien want hulle kom al ‘n lang pad saam. Al beduidende stap sy saam en gaan sit op die stoel wat wag. Madame gee ‘n mooi nuwe tandeborsel, maar Dolla het net oë vir die gemaskerde studentjies. Die lig word aangeskakel en nader getrek. En skielik  onthou sy…, gee die tandeborsel doelgerig terug en toe moet ons vasdruk, want sy stoei teen die gasmasker wat ons hierdie keer probeer. Sy beur orent en word naar. En soos al die ander kere, moet Madame tevrede wees met ‘n vinnige inloer om te sien of daar gaatjies is. ‘n Vinnige veeg met die vinger agterlangs bevestig die vermoede – ‘n verstandtand! Dan sit ons vir nog ‘n halfuur in die wagkamer, want Dolla met die bleek gesiggie word kort-kort naar in die kartonspoegbakkie – baie gas en groot skrik verder. Die res van die dag bly sy tuis. 

Die volgende afspraak is met Madame Tandarts èn die narkotiseur.

Oorspronklik in die Lente-uitgawe van Ek en my Kind 2014 gepubliseer

Contact

SAVF FAMNET,
41 Hospital Street, Arcadia, 0083
PO BOX 40526, Arcadia, 0007
012 325 3920
erheeder@savf.co.za
084 383 9417

Join us here

Upcoming events

No upcoming events.

Stay up to date

Enter your email address to receive notification of news and relevant updates.