Liefde wen altyd

Liefde wen altyd

Lomé Louw

Vir Lielie was die lekkerste van die inperking tydens die Covid-19-pandemie om die hele dag saam met haar gesin by die huis te wees.  As ‘n gesin het hulle saam gaan stap, saam gelag, gesels, gespeel, geleer, huiswerk gedoen en saam gebid.  Sy hoop dit sal nooit weer verander nie. 

Die slegste deel van die pandemie is, hulle sal nie Kersfees by die see wees nie. Pappa het vir baie dae nie werk toe gegaan nie en sal Desember sy verlore werk moet inhaal. 

Sy wil nie hê haar gesin moet die lekker saamwees-tye tydens die pandemie vergeet nie, daarom wil sy vir almal ‘n geskenkie vir Kersfees gee, om hulle aan die lekker tye saam te herinner.  Sy dink en dink…. Dan kry sy ‘n plan.

Sy vra Mamma vir lap, naald en garing. Sy meet 8 ewe groot vierkante op die lap uit en knip versigtig op die lyne. Sy vra vir Mamma om haar te wys hoe om die lappies te stik, sodat dit ‘n sakkie kan vorm. “Wat gaan jy hiermee maak?” vra Mamma.  “Dit is Kersfeesgeskenkies,” is al wat Lielie antwoord. Toe die 4 sakkies klaar gestik is, trek Lielie met ‘n liniaal en swart merkpen ‘n # op elke sakkie. Sy probeer haar bes om netjies te werk. Mamma frons, sy weet regtig nie hoe hierdie sakkies Kersgeskenkies gaan word nie.

Die volgende dag vra sy vir Mamma of sy ronde klippies in die tuin kan optel. Mamma het ‘n hele bedding vol klippies waar haar woestynrose groei. Dan vra sy vir Pappa vir verf. Die res van die dag verf sy die klippies in helder kleure. Sy werk netjies en wag tot die een kant droog is, voordat sy die ander kant verf.  Mamma loer nuuskierig deur die venster. Sy wonder darem wat Lielie se plan met die sakkies en klippe is.

Lielie help gewoonlik tafel dek vir ontbyt, maar die volgende oggend is sy nog in haar kamer. Mamma loer by haar deur in. “Als reg, Lielie?” vra Mamma. “Ja, Mamma. Kan ek asseblief vanoggend ‘n bietjie later my ontbyt eet?  My geskenkies is amper klaar.”  Mamma is baie nuuskierig. Van die deur af kan sy sien Lielie teken op party klippies kruisies en op party hartjies. Sy pak in elke sakkie 5 hartjie-klippies en 5 kruisie-klippies.

Later vra Lielie vir Mamma of sy ‘n aartappel kan kry om die bruin papier te versier waarmee sy die geskenkies wil toedraai. Mamma sny die aartappel in die helfte en met ‘n koekiedrukker druk Lielie ‘n patroontjie in die aartappel. Sy druk die aartappel in verf en druk die bruin papier vol hartjies. 

Kers-oggend pak Lielie haar 4 geskenkies onder die Kersfeesboom.  Die geskenkies is vir Pappa en Mamma, vir haar kleinboet Helmut, vir Ouma en vir Emma, hul huiswerker se dogtertjie. Haar geskenkies is klein en raak so ‘n bietjie weg tussen die ander. 

Haar hartjie klop woes toe Pappa die geskenkies uitdeel. Wat as niemand daarvan hou nie? Ouma lees die kaartjie; Liefde wen altyd en maak die geskenkie oop.

“My mapstieks, Lielie, dis nou oulik! Jy het ‘n klein kringetjie-en-kruisies bordspeletjie gemaak wat ‘n mens enige plek in die wêreld kan speel! Jy is ‘n briljantjie!” sê Ouma.

Later die middag speel almal “hartjies en kruisies,” want Lielie het hartjies in plaas van kringetjies op die klippies geteken. Pappa speel teen Mamma, Ouma teen Helmut en Lielie teen Emma. “Ek wen,” gil Helmut!  Ouma gee vir Helmut ‘n speelse knypie op sy wang en sê: “Lielie se kaartjie het gesê Liefde wen altyd!” Almal lag, want hulle weet maar te goed Ouma hou nie van verloor nie.  Lielie was verniet bekommerd. Haar handgemaakte geskenkie is ‘n wenner!

Contact

SAVF FAMNET,
41 Hospital Street, Arcadia, 0083
PO BOX 40526, Arcadia, 0007
012 325 3920
erheeder@savf.co.za
084 383 9417

Join us here

Upcoming events

No upcoming events.

Stay up to date

Enter your email address to receive notification of news and relevant updates.