Lielie se spesiale kersgeskenk

Lielie se spesiale kersgeskenk

Lome Louw

Illustrasie: Helena van der Nest

Nog net ‘n paar slapies voor Kersfees!  Dit is Lielie se werk om elke jaar die groot Kersboom te versier.  Sy maak elke jaar self die versierings.  Hierdie jaar het sy koekies in hartjie-vorms gebak.  Sy is besig om aan elke koekie ‘n strik vas te bind sodat sy dit aan die boom kan hang.  Sy hoop net die versierings hou tot Kersfees; sy is self nou lus vir een van die koekies!!

Wimmie is Lielie se jonger boetie.  Hy kyk nuuskierig hoe Lielie die boom versier.  Hy wil-wil net ‘n koekie van die boom afhaal. 

“Wag Wimmie, hier is ‘n gebreekte koekie wat jy kan eet.  Ek het 10 koekies aan die boom gehang, want daar is nog 10 slapies oor voor Kersfees. Ons gaan elke dag ‘n koekie afhaal en eet en so sal ons presies weet hoeveel slapies oor is voor Kersfees.”

Mamma kom ook na Lielie se mooi Kersboom kyk.  Sy hou van Lielie se koekie-plan.  Mamma begin van die geskenkies onder die boom pak.  Lielie lees een van die kaartjies:  “Vir Lielie, met liefde van Oom Jacques en Tannie Ronel.”  Lielie se oom en tannie bly oorsee en stuur elke jaar vir Lielie en Wimmie ‘n geskenkie.  Dit is altyd baie klein, maar baie spesiaal.  Verlede jaar het Lielie ‘n seëlringetjie gekry en Wimmie ‘n HotWheels-karretjie. 

“Mamma, oom Jacques en tannie Ronel doen elke jaar soveel moeite om ons geskenkies hier in Suid-Afrika te kry.  Hoekom gee ‘n mens geskenke vir mekaar as dit Kersfees is?” vra Lielie.

“Lielie, elke dag met alles wat daarin is, is ‘n geskenk van God.  Die son wat daar buite skyn, ons warm huis, die lekker kos wat op die stoof kook, jou vinnige fiets, Pappa, Mamma en Wimmie se liefde vir jou…..  Dit alles is geskenkies van God af.  Maar dis nie al nie.  God het die heel-heel-heel grootste geskenk gegee toe Hy vir Jesus vir ons gegee het.  Verstaan jy dit, Lielie?” vra Mamma.

“Ek verstaan die geskenke wat ons elke dag kry, maar hoe het God Jesus vir ons gegee en hoe pas dit by die Kersgeskenke?” vra Lielie weer.

“Met Kersfees vier ons die dag waarop Jesus in ‘n krip hier op aarde gebore is. Dit was alles deel van God se plan, sodat ons eendag ook in die Hemel kan bly, al doen ons baie verkeerde dinge.” 

“Maar dan moet ons mos eerder vir Jesus geskenke gee en nie vir mekaar nie,” antwoord Lielie.

“Ja, Lielie, jy is reg.  Dit is eintlik wat ons moet doen.  Maar nou gee ons vir mekaar geskenke.  So wys ons vir mekaar dat ons Jesus se geboorte vier en dat ons vir mekaar lief is, net soos wat Jesus vir ons lief is.  Dit gaan nogal moeilik wees om vir Jesus ‘n geskenk te koop, dink jy nie?  Wat sal jy vir Jesus wil koop as jy kan, Lielie?”

Lielie dink diep.  Sy weet wat sy graag vir Jesus wil gee.  Sy sal graag vir Jesus haar hartjie wil gee, sy weet dis die een geskenk wat Hom baie bly sal maak!!  As Jesus in haar hart is, is sy vir niks of vir niemand bang nie, nie eens vir die donker nie!  As Jesus in haar hart is, doen sy die regte ding en hoef sy nie bekommerd te wees dat sy in die moeilikheid kan kom nie.  Maar hoe gaan sy dit vir Jesus op Kersfees gee? Hoe sal sy dit by Jesus kan kry?   Dit gaan moeilik wees… 

Dan kry sy skielik ‘n idee, as sy nie haar hart vir hom kan gee nie, kan sy Sy hart blymaak. 

Vir die 10 dae voor Kersfees gee Lielie vir almal rondom haar ietsie, wat sy weet Jesus se hart sal blymaak.

10 dae voor Kersfees:  Sy vertel vir Wimmie ‘n slaaptydstorie.

9 dae voor Kersfees:  Sy maak vir Mamma tee, sonder dat Mamma vra.

8 dae voor Kersfees:  Sy was die honde se kos- en waterbak.

7 dae voor Kersfees:  Sy spuit vir Pappa die tuin nat.

6 dae voor Kersfees:  Sy vra vir Wimmie dat hulle nie die hartjie-koekie moet eet nie.  Sy gee die koekie vir Maria, hulle bediende, om vir haar dogtertjie te gee.

5 dae voor Kersfees:  Sy pluk een van Mamma se rose en gee dit vir die tannie wat langs hulle woon.

4 dae voor Kersfees:  Sy vries water vir die tuinman in ‘n botteltjie, vir wanneer hy in die bus huis toe moet ry.

3 dae voor Kersfees:  Sy pak haar kaste reg.  Dit maak vir Maria baie bly.

2 dae voor Kersfees: Sy vra vir Mamma om haar te help en sy  tik ‘n spesiale Kersfeesbriefie vir oom Jacques en tannie Ronel en stuur dit met ‘n e-pos.

1 dag voor Kersfees:  Sy verf vir almal in haar familie ‘n hartjie en knip dit uit.

Kersdag is daar ‘n hoop geskenke onder die boom.  Lielie kan sien dat elkeen met baie liefde toegedraai is.  Sy kan nie help om te wonder of Jesus van haar geskenk die afgelope tien dae gehou het nie. 

Mamma het ‘n baie mooi tafel gedek, Oupa en Ouma kom ook vandag by hulle eet. Lielie sit vir elkeen een van die uitgeknipte hartjies in hulle borde.  Ouma sê die hartjie is haar mooiste Kersgeskenk ooit.  Mamma het haar hartjie teen die yskas vasgesit en Wimmie het agter op syne geteken.  Pappa het syne in sy Bybel gebêre en Oupa het sy hartjie in sy beursie gebêre. Hy sê dan sal hy elke keer aan haar dink as hy sy beursie oopmaak.  Dit is vir Lielie so lekker om vir iemand anders ietsie te gee.  Maar sy kan nie ophou wonder of Jesus van Sy geskenk gehou het nie.

Daardie aand lees Mamma vir haar en Wimmie die Kersverhaal.  Sy wens sy kon soos die drie wyse manne ook vir Jesus ‘n duur geskenk gegee het.  Sy wil-wil net begin huil, want haar geskenk kon nie goed genoeg vir Jesus gewees het nie. Jesus is gewoond aan duur geskenke.  Mamma kan altyd sien as ietsie fout is.  “Wat maker, Lielie-lief?  Jy lyk dan nou hartseer op Kersfees?”

Lielie vertel vir Mamma van Jesus se Kersgeskenk die afgelope tien dae.  Sy vertel ook dat sy eintlik haar hart vir Jesus wou gee en nie geweet het hoe om dit by Hom uit te kry nie.  Mamma tel vir Lielie liefies op haar skoot.  “Lielie, die 10 wonderlike dinge wat jy gedoen het, het baie mense se harte bly gemaak.  En as jy ons almal se harte so bly kon maak, dink net hoe bly sou dit vir Jesus maak.  Ek dink dit was ‘n baie beter geskenk as die goud, wierook en mirre, want ek weet nie of Jesus dit eintlik kon gebruik het nie.  Die beste nuus is, jy kan jou hart nou vir Jesus gee.”  Mamma vou Lielie se handjies oormekaar en begin bid:  “Dankie, Jesus, vir al die geskenke wat ons elke dag ontvang.  Dankie ook vir ons Kersgeskenke vandag.   Jesus, Lielie het ook vandag ‘n spesiale geskenk vir U.  Sy wil haar hartjie vir U gee om in te woon.  Dankie, Jesus, vir al die liefde.  Amen.”

Lielie voel of sy die heel-heel-heel grootste geskenk vandag vir Jesus kon gee.  En die beste is, dit het nie geld gekos nie!! 

Contact

SAVF FAMNET,
41 Hospital Street, Arcadia, 0083
PO BOX 40526, Arcadia, 0007
012 325 3920
erheeder@savf.co.za
084 383 9417

Join us here

Upcoming events

No upcoming events.

Stay up to date

Enter your email address to receive notification of news and relevant updates.