Respek

RE-SPEK is nie ‘n repie varkvleis nie

Lomé Louw

Lielie se Oupa en Ouma bly in ‘n aftree-oord.  Elke jaar met Ouma se verjaarsdag speel Lielie vir haar ‘n spesiale stukkie op die klavier in die aftree-oord se eetsaal.  Meeste van die ander ooms en tannies wat ook daar bly, kom luister as sy speel.  Party huil en druk haar vas. Lielie gee gewoonlik nie om nie, want baie van hierdie ooms en tannies se kleinkinders bly baie ver, of selfs oorsee.  Sy is baie lief vir haar Oupa en Ouma en is bly hulle bly in dieselfde dorp.   Daarom probeer sy om hierdie dag baie spesiaal vir haar Ouma te maak.  Sy oefen baie hard aan die klavierstuk, sodat sy nie ‘n fout maak nie.  Sy krul gewoonlik haar hare en steek ‘n blom daarin en trek ‘n rokkie aan wat haar Ouma vir haar gekoop het.

Vandag is ook glad nie anders nie.  Sy kyk vir haarself in die spieël en druk die blom agter haar oor in.  Dan stap sy klavier toe en speel die stukkie nog eenkeer deur.  Sy ken dit uit haar kop uit en speel dit foutloos.

Net voor hulle na Ouma toe ry, roep Mamma haar. “Jy lyk soos ‘n prentjie, Lielie.  Dankie dat jy altyd soveel moeite vir Ouma doen.   Onthou om al die ooms en tannies in die oë te kyk as jy hulle groet.  As hulle ‘n drukkie gee, gee ‘n stywe drukkie terug en baie belangrik as hulle vra hoe dit met jou gaan, dan antwoord jy, maar onthou om ook te vra hoe dit met hulle gaan.”

“Ja Mamma, ek sal onthou.  Ek onthou dit eintlik altyd, want dit is mos hoe Mamma met ons maak.  Ek weet nie hoekom Mamma dit altyd weeeeeer vir my moet sê nie.”  Lielie se Ma kyk haar kwaai aan.  Sy hou nie van die manier hoe Lielie haar antwoord nie. 

***

In die motor oppad na Ouma toe, stop Mamma eers by John, die bure se tuinwerker, wat oppad huis toe is.  “Kan ek jou gou by die busstop aflaai, John?  Ek en Lielie is oppad na Ouma toe en ons ry daar verby.”  John is al te bly en klim in die motor in.  Lielie groet ook vir John, maar kyk by die venster uit terwyl Mamma verder met John gesels oor haar klavierspeel vir Ouma se verjaarsdag.  Haar ma is ‘n baie goeie voorbeeld van omgee, dink Lielie.  Mamma gee nooit geld vir die bedelaars nie, maar sy kyk altyd of sy iemand kan help.  John groet vriendelik toe Mamma hom aflaai en Lielie waai vir hom. 

***

By die aftree-oord wag Oupa, Ouma en baie van die ander ooms en tannies al in die eetsaal toe hulle daar aankom.  Lielie groet almal en gaan sit voor die klavier.  Sy is so bly tannie Viljoen is nie vandag hier nie.  Alhoewel tannie Viljoen altyd vir haar ‘n sjokolade gee vir haar mooi klavierspel, is dit vir Lielie moeilik om haar ‘n drukkie te gee.  Sy weet nie hoekom nie, maar tannie Viljoen ruik vir haar snaaks en Lielie verbeel haar sy ruik ook so as sy vir tannie Viljoen ‘n drukkie gegee het.  Sy weet nie of dit die tannie se seep is en of sy net vergeet om haar tande te borsel nie, maar Lielie gril so bietjie vir haar.

***

Soos altyd speel Lielie die stukkie foutloos. Oupa en Ouma is eerste by haar om ‘n drukkie te gee toe sy klaar is.  Dan volg al die ander en laaste in die ry, is tannie Viljoen.  Waar kom die tannie nou vandaan?” wonder Lielie.  Soos altyd haal tannie Viljoen ‘n sjokolade vir Lielie uit haar handsak uit.  Lielie sê die mooiste dankie wat sy kan, maar gee nie soos altyd vir tannie Viljoen ‘n drukkie nie.  Sy vra wel vir die tannie hoe dit met haar gaan en of sy al die kombers klaar gehekel het waarmee sy laasjaar besig was.

***

In die motor oppad huis toe maak Lielie haar sjokolade van tannie Viljoen oop.  Sy is al die heel middag lus daarvoor.  Sy breek ook ‘n stukkie vir Mamma af en gee dit vir haar. Toe die sjokolade opgeëet is, vra Mamma vir Lielie wat die lekkerste vir haar was van die middag. “Die sjokolade was verseker die lekkerste, want dit is die soetste,” lag Lielie. “Maar dit is ook vir my lekker as al die ooms en tannies vir my sê ek het mooi klavier gespeel.”

“Dit is lekker as ‘n mens komplimente kry Lielie en jy het regtig baie mooi gespeel.  Dit help as ‘n mens oefen.  Hierdie ooms en tannies het baie respek vir jou, al is jy nog klein, want jy doen baie moeite met jou klavierspel.  Kinders moet egter ook altyd respek hê vir ouer mense, of hulle nou slim, ryk, arm, mooi of lelik is, want ouer mense leef al langer as ons op hierdie aarde.  Hulle het al meer van die lewe gesien en geleef as ons, en net vir daardie rede alleen moet mens altyd respek vir hulle hë.” 

Lielie word bloedrooi.  Sy weet nou Mamma het gesien sy het nie vir tannie Viljoen ‘n drukkie gegee nie. Sy besef tannie Viljoen het ook moeite met haar gedoen.  Sy moes winkel toe stap om die sjokolade vir haar te koop en tannie Viljoen is al oud, sy loop swaar met haar kierie.  “Sal Mamma asseblief omdraai.  Ek het ‘n foutjie gemaak.”  Mamma vra of sê niks nie.  Sy draai die motor om en ry terug aftree-oord toe. 

Lielie se hart klop in haar keel toe sy voor tannie Viljoen se deur staan.  Sy klop.  Sy hoor hoe tannie Viljoen deur toe stap met haar kierie.  Sy maak die deur oop en groet Lielie net so vriendelik soos altyd.  “En as jy nou hier staan Ounooi?  Het Mamma nie al gery nie?”  “Ek kom net weer dankie sê vir die sjokolade Tannie,” sê Lielie en die keer druk sy vir tannie Viljoen.  Tannie Viljoen sit haar arms styf om Lielie en al ruik die tannie vir haar snaaks, is die gevoel wat sy kry baie lekkerder as die sjokolade.

Toe sy wegstap ruik Lielie aan haar rokkie.  Sy verbeel haar net.  Die snaakse reuk klou nie aan haar vas nie.  Mamma was reg, ouer mense verdien altyd jou respek. Sy het gedink die tannie se huis sal baie deurmekaar wees, maar tannie Viljoen se huis is netjies en haar plantjies is mooi versorg, selfs al sukkel die tannie om te loop. Sy weet ook nou wat die snaakse reuk is.  Tannie Viljoen sit van die olie aan haar meubels wat Oupa ook partykeer gebruik.  Sy het die reuk erken toe tannie Viljoen die deur oopgemaak het.

Oorspronklik in Ek en my Kind, Somer 2017 gepubliseer  

Contact

SAVF FAMNET,
41 Hospital Street, Arcadia, 0083
PO BOX 40526, Arcadia, 0007
012 325 3920
erheeder@savf.co.za
084 383 9417

Join us here

Upcoming events

No upcoming events.

Stay up to date

Enter your email address to receive notification of news and relevant updates.