Lielie en Bart

Lome Louw

Illustrasie: Helena van der Nest

Dit is lente en Lielie is baie opgewonde, want vandag begin haar swemlesse weer na die lang winter.  Sy is ook opgewonde om weer vir Bart te sien. 

Bart is gestremd.  Sy regterbeen is geamputeer toe hy nog baie klein was en hy gebruik krukke.  Hy is Lielie se beste vriend by die swemklas.

“Hallo Bart!” gil Lielie toe sy by die swem aankom.  Sy druk amper vir Bart onderstebo!!  Bart begin haar sommer dadelik te jaag met sy krukke!!

Uit die hoek van haar oog sien Lielie nuwe maats by die swem.  Sy sien hoe hulle na Bart kyk en dit maak haar sommer vies!!  Sy kry altyd vir Bart jammer as almal so na hom staar.  Hy is een van die fiksste kinders by die swem en gee altyd sy beste.  Vir haar is Bart nie gestrem nie!  Hy swem haar dan weg!  Die beste van Bart is, hy is altyd vriendelik en mededeelsaam.

Bart sien ook die nuwe maats en stop eers die jaagspeletjie om hulle te gaan groet.  “Goeie middag, my naam is Bart.  Is julle nuut by die swem?  Kom ek wys vir julle waar is die toilet en aantrekkamers.”  Lielie groet ook, maar sy is nie so vriendelik soos Bart nie.  Sy wil nie met kinders meng wat dink Bart is anders as hulle nie.

Bart wys die maats waar alles is.  Die maats sê dankie en gaan by die aantrekkamers in.  “Hoekom is jy so nors met die nuwe maats, Lielie? “vra Bart.

‘Ag, ek hou net nie daarvan as hulle so na jou kyk nie. Hulle dink natuurlik hulle gaan jou wegswem en kry jou jammer.  Ek wens almal kan jou sien soos ek jou sien.  Jy sal altyd my swemheld bly, Bart.”

Bart begin lag.  “Kan jy onthou hoe ek jou held geword het, Lielie? “

Dan begin Lielie ook lag.  “Was ek ook soos hierdie kinders, Bart?”

“Jy was eintlik erger!!  Jy het my ook jammer gekry toe jy die eerste keer swemles toe gekom het.  Jy het ook anders na my gekyk, net soos hierdie kinders.  Jy wou amper nie eers met my praat nie!  Ek dink nie dis ‘n slegte ding om vir gestremde mense jammer te wees nie, maar jy het daardie dag ‘n belangrike les geleer.  Jy het geleer dat nie alleen gestremde mense ander mense nodig het om hulle te help nie, maar dat alle mense mekaar nodig het; selfs al het hulle twee bene. ”

Die nuwe maats kom uit die aantrekkamers.  Lielie begin gesels:  “Ek het gesien hoe snaaks julle vir Bart kyk.  Die eerste keer toe ek swemles toe gekom het, het ek nie gedink Bart kan swem nie.  Hy en ‘n ander maat het net soos ek en hy vanmiddag gespeel.  Die maat het hom per ongeluk in die water gestamp.  Ek het só groot geskrik dat ek  in die water gespring het.  Ek wou natuurlik vir Bart red!  Ek kon nog nie goed swem nie en op die ou end het Bart mý gered!  Bart sal altyd my swemheld bly, want hy het my lewe gered.  Julle hoef nie vir hom jammer te voel nie; hy gaan julle vanmiddag wegswem.”

Die maats is baie ouliker as wat Lielie gedink het.  Sy sien ook dat hulle, net soos sy, vol bewondering is vir Bart se swemtalent. 

Dis tyd om uit te klim.  Lielie stap na die baan waarin Bart swem.  Soos altyd gee sy vir Bart sy krukke aan toe hy uit die swembad klim, want dit is vir hom moeilik om op te staan as iemand hom nie help nie.   Die nuwe maats kom ook aangestap en al geselsende stap die swemmers na die aantrekkamers.

Sy is so bly dis lente!  Bly sy kan swem toe gaan en weer elke week vir Bart en haar nuwe swemmaats sien.  Bart het haar weer vandag geleer om vriendelik met mense te wees!  As dit nie vir Bart was nie, het sy nie vandag nuwe maats gemaak nie!

Contact

SAVF FAMNET,
41 Hospital Street, Arcadia, 0083
PO BOX 40526, Arcadia, 0007
012 325 3920
erheeder@savf.co.za
084 383 9417

Join us here

Upcoming events

No upcoming events.

Stay up to date

Enter your email address to receive notification of news and relevant updates.