Die Potjie Pap

Deur Amanda uit België

Sê Rika toe op ’n dag aan die jong paartjie met haar ronde magie en plat bankrekening: “Saam met elke baba kom ’n potjie pap.”

Ons eet nou nog uit daai potjie wat intussen twee geword het. En daar’s nog altyd pap.

Soos wat ons hekke toegetrek het agter ons en nuwe voordeure oopgesluit het, het ons elke keer die potjies in die kombuis gekry. Die pap raak net nooit op nie. Soos Pa mos altyd gesê het: “Pap vir ‘n basaar.” Ons staan stom.

Vandat hulle oë oopgegaan het, het Handsome en Dolla tasse vol klere van nefies en niggies geërf. En mooigoed daarby. Uitstappies na klerewinkels was skaars, totdat Handsome besluit het sy smaak lyk anders as die nefieklere en dat etikette lewensnoodsaaklik was vir die geheelprentjie. Dolla sal kaal loop, want klere is wat Ma vir haar aantrek omdat ‘n mens moet.

Dolla kan lag, maar nie praat nie. Haar alles is stadig, te stadig, nog steeds. By die Baby Therapy Centre in Lynnwood, Tshwane (daai tyd nog Pretoria) het ’n persoon wat anoniem wou bly, betaal sodat sy gratis spraak- en arbeidsterapie kon kry.  ’n Jaar of wat later het die mooi Koreaanse spraakterapeut en haar dogtertjie kom navraag doen toe ons by ’n kursus in Worcester gehelp het. Dolla sou ’n maatjie wees vir haar dogtertjie. En so het Dolla by die maatjie geleer om op die potjie te sit. Remidiërende juffrou Rosa, in haar ses maande rustyd uit onderwys, het vriendinne uit ons gemeente bymekaar gemaak, ’n spesiale program vir Dolla uitgewerk en almal ingedeel vir uurlange sessies van speel en herhaal, vyf oggende per week. Dolla was in die wolke met al die persoonlike aandag, want mense is mos haar speelgoed! Dolla het baie. Stadig. Een. Ding. Bygeleer. Dït was ’n stywe skep uit die potjie pap.

Toe ons Anderman-se-Land toe getrek het, het ons die potjies weer in die ‘keuken’ (kombuis) gekry. Handsome het swaar getrek en skool was die plek waar sy aksent en andersgeit ‘n onuitputlike bron van spot was. Maar die een Mevrouw in die skool het geglo, bemoedig en sterk riglyne neergelê. Hy sal weer op sy voetjies land, het sy toe al gesê. Hààr onthou hy met dankbaarheid. Ons ook.

Omdat ons visums dit nie toegelaat het nie, kon Handsome ook nie soos sy vriende vakansiewerk doen en sakke vol geld verdien nie. ’n Suid-Afrikaanse besigheidsman het vakansiewerk voorsien en uit eie sak ‘vakansiegeld’ gegee.

‘n Paar jaar gelede het vriende aan ons ’n motor geskenk. Ons het reeds een gehad. Baie dankie maar totaal onnodig, het ek dadelik gekeer. Dit is dalk wys om die gewigtige saak beter te bedink, was Manlief se wyse bydrae. Ons het toe die blou geskenk gehou, wat die kerk-toe-gaan-kar geword het. Nie baie maande verder nie, het Handsome ’n verweg-werk gekry en kerk-toe-kar het werk-toe-kar geword.

Vasgevang in die tydsgees van harde werk, hardloop na die volgende afspraak, beplanning tot op die minuut en ‘ja’ sê vir alles want ‘baie besig-wees’ is hoe dit moet wees, sodat die skaamte-stemmetjie van nie-genoeg-nie gestil kan word, want daai bek skree altyd, het Dolla ons geleer van die potjie pap. Sy is nie gepla oor die dag van môre of selfs net-nou nie. Sy leef nou. Solank óns daar is, is sy gelukkig. Die dag van môre is iemand anders se probleem. Sy het nie eers ’n idee wat dit beteken nie.  

Na jare se doktersbesoeke en terapieë met Dolla, het ons in Anderman-se-Land ’n punt daaragter gesit. Maar heel versigtig het die huisdokter uitgevra oor wat dan nou die diagnose is en sal ons nie tog wil weet nie. Nog doktersbesoeke. Want hulle was nuuskierig en Dolla verheug om nog mense te ontmoet. Die oulike professor by Menslijke Erflikheid het gevra of sy deel kan wees van ’n studie oor mense soos sy. Bloed is getrek. Genetiesetoetse, chromosoomtoeste en maande het verloop. Eindelik, na 20 jaar was daar ’n diagnose. En dit alles gratis in die naam van navorsing!

Bella woef is die afgelope tyd ’n groot skep uit daai potjie. Wanneer Dolla, veral soggens, uit frustrasie byt, hamer en timmer, is Bella vinnig by. Sy spring blaffende op haar skoot of gaan haal haar speeltou om dit op Dolla se voete te kou. Dadelik verander die donderasie na oopmond-lag en giggel.

Manlief het dikwels gestoei met die wat-van en eendag-vrae. Dan was die stem gerusstellend soos ’n maag swaar van lekker pap: ”Maar onthou jy nie? Ek het vir jou gesorg toe die sand dik was, die son warm en die water skaars was. Dink jy nie Ek sal dit weer doen nie? Eintlik doen Ek dit nog steeds. Ek sal jou mos nie los nie!”

En so trek die twee potjies pap saam en skep ons nog steeds sulke groot hompe daaruit. En daar’s nog altyd pap. Dis lekker pap. Dis mieliepap met room en tamaties!

Herfs 2017 Kunswerk in wording Artwork in process

Contact

SAVF FAMNET,
41 Hospital Street, Arcadia, 0083
PO BOX 40526, Arcadia, 0007
012 325 3920
erheeder@savf.co.za
084 383 9417

Join us here

Upcoming events

No upcoming events.

Stay up to date

Enter your email address to receive notification of news and relevant updates.