Ek weet nie

Amanda van België

Ses maande, wys die magie van die verpleegster wat soggens kom om ons Dolla te bad en aan te trek. Die sonar het duidelik die geslag gewys en hulle wóú ook weet sodat die kamer in die gepaste kleur geverf kan word, die regte kleertjies gekoop kan word en dat hulle op die naam kan besluit, vertel sy. Dit sal natuurlik ‘n keisersnit wees en die datum is al vasgelê want dit pas mooi in by die res van die beplanning vir die jaar. Sy glimlag. Ek glimlag. Ek verstaan…

‘n Netjiese boksie: die gesonde verstand sê, wéét met sekerheid, want dit bring rus. Die gesonde verstand is altyd gereed met ’n antwoord, ’n goeie rede vir alles of ’n logiese verduideliking. Ons kies doelbewus hiervoor, want ons wil so graag met sekerheid kan sê, in beheer wees, net soos ander. Want diep binne, onbewustelik, het Bang sy huis kom bou – wat as sy nie normaal is soos ander nie, sê nou hy kom iets oor, miskien sal ek dit nie kan hanteer nie, wat as daar nie genoeg geld is nie, miskien moet ek my werk prysgee…? Bang, bang, bang! Die drang na sekuriteit of om in beheer te wees en vrees is ’n sterk tweeling. 

Maar hoe leef ‘n mens dan nou as niks in die kop-boksie pas nie, soos ons 25 jaar se ‘ek-weet-nie-wêreld’ met ons Dolla-kind? Wil julle nie weet nie…wat is fout met haar…hoekom is sy so…hoekom praat sy nie…wat sê sy…wat is haar diagnose…wat is haar lewensverwagting… het sy pyn…is sy siek…wat is fout…kry sy koud…hoekom doen sy dit…sal sy dit geniet…

Ek weet nie. Ek weet nie.

Ek weet wragtig nie meer nie.

Van die eerste sonar af tot vandag toe, het sy ons uit die kop-boksie gedwing – geen antwoorde nie, niks se verstaan nie, geen verklaring nie en op die ou end, geen raad of kreatiewe idees meer nie. Alleen maar net raai, wonder en bespiegel. Eenvoudig gestel – nie in beheer wees nie!

Waar is die leef-met-oorgawe-uit-die-hart model waarvan almal so praat asof dit in elke gesondheidswinkel te koop is? Hóé leef ’n mens uit die hart as woede, frustrasie en moedeloosheid hard bou aan ’n steenmuur om die hart, menige dag met ‘n grimmige masker gegroet word of die hond al tandknersend vir ’n wandeling geneem word om te kalmeer? Wat gemaak met al die emmers vol trane, vretende skuldgevoelens, sewentig maal sewe keer jammer sê…? Moet ek maar net weer begin, stil raak, stadig en diep asemhaal, arms uitsteek, omhels en haar styf vasdruk terwyl my skouer nat raak van die spoeg, haar in die gesig soen totdat sy giggel en ek weer lag?

Ons het hard geleer dat om te leef, die kuns is om sonder antwoorde te lewe.

Miskien, net miskien is uit-die-hart-leef om elke dag opnuut te kies om weer die hart wyd oop te gooi, voort te stap sonder om te verstaan of antwoorde te hê en gewoon net lief te hê, te sorg en versorg en met oop hand alles los te laat; alles los te laat in ’n sterk, breë stroom genaamd Liefde, sodat ek Hom beter kan leer ken. En hopelik word ek uiteindelik ook daardie stroom van liefde uit die hart.

My verstand sê ek weet nie, maar my hart sê, maak nie saak nie.

Oorspronklik in Ek en my Kind, Winter 2019 gepubliseer

Contact

SAVF FAMNET,
41 Hospital Street, Arcadia, 0083
PO BOX 40526, Arcadia, 0007
012 325 3920
erheeder@savf.co.za
084 383 9417

Join us here

Upcoming events

No upcoming events.

Stay up to date

Enter your email address to receive notification of news and relevant updates.