”Coping skills” te midde van ‘n kind met spesiale behoftes

Monique Tait

Wanneer dit by kinders kom, glo ek dat elke ouer spesiale vaardighede nodig het om in vandag se gejaagde lewe te “cope”.  Die lewe se spoed en eise raak al hoe vinniger, meer en groter!  Plaas in hierdie gejaagde lewe van ons ook nog ‘n kind met spesiale behoeftes plus die eise op ‘n huwelik en die gesinslewe is iets wat jy eintlik nie vir iemand kan verduidelik nie.

Ons oudste seun is 16 jaar oud en ly aan outisme.  Vir jare moes ons dus al aanpassings maak rondom ons sosiale lewe, ons gesinslewe en ook ons huwelikslewe.  So moes ons byvoorbeeld leer om ons sosiale lewe aansienlik af te skaal en in te perk.  Ons kon nie meer net enige uitnodiging aanvaar of selfs enige funksie bywoon nie.  Met geen grootouers in die omgewing nie, het dit natuurlik sake ook moeiliker gemaak.  Ek sal mense in ons omstandighede sterk aanraai om ‘n sterk steunstelsel op te bou, hetsy by ‘n selgroep, deur naby hul familie te woon of om ‘n steungroep by te woon saam met mense in dieselfde omstandighede. Vir elke mamma wil ek sê: kry vir jou ‘n hartsvriendin teenoor wie jy jou hart kan oopmaak, by wie jy kan huil oor verlore drome en by wie jy nie ‘n masker hoef op te sit wanneer dinge vir jou soms te veel raak nie.

Vir ons ander seun is dit steeds moeilik om te aanvaar dat dinge in ons huis soms anders werk as in ander mense s’n.  Ek kom agter dat dit soms vir hom moeilik is om vriende huistoe te nooi, want dan moet hy altyd verduidelik waarom sy boetie “anders” is.  Ons probeer hom aanmoedig om uit die staanspoor vir nuwe vriende te verduidelik wat die opset is, sodat dit nie vir hom ongemak veroorsaak nie.  Tog bly ‘n kind ‘n kind en ‘n tiener – ‘n tiener…

Wat ons huwelikslewe betref, moes ek en my man seker maak dat ons steeds by mekaar “uitkom” aangesien ‘n mens so maklik by mekaar kan verby lewe en jou lewe maklik opgeslurp kan raak met terugvoer van terapeute af, reëlings rondom jou kind se versorging en beplanning rondom sy program.  So het ons byvoorbeeld al die afgelope 10 jaar die reëling dat Donderdagoggende ONS dag is (my man werk die meeste aande en ons kan dus nie ‘n aandjie opsy sit nie).  Ons probeer dan iets lekkers doen, soos om te gaan fliek, na ‘n teetuin te gaan, ens.  Verder probeer ons een naweek ‘n jaar wegbreek wanneer ons by ‘n oupa en ouma gaan kuier en hulle na die kinders kan kyk.

Die belangrikste “coping skill” wat ek egter vir myself moes aanleer, is tonne humor.  Ek moes leer dat ‘n dun vel my nêrens gaan bring nie en dat ons moes lag vir baie dinge wat ander mense geskok het.  So byvoorbeeld het my kind vir 10 dae aanmekaar vir my gesê dat ek “die dikste ma in die hele wêreld is wat hy nog ooit gesien het!”  O K ! ! !  Dis seker die woorde wat ons as ma’s die minste wil hoor!!  Nadat my man met hom daaroor gepraat het en hom aangesê het om vir my om verskoning te kom vra, het hy by my gekom en gesê:  “Ok, jy is die dikste ma in die hele wêreld wat ek nog nooit gesien het nie!!!!”  Tong in die kies, moes ek maar die verskoning aanvaar en vrede maak daarmee dat ek nooit vir hom soos ‘n model sal lyk nie!!!! Probeer om nie alles wat hy (of ander mense) sê, te letterlik op te neem nie.  Weet dat ander se op- of aanmerking gewoonlik uit onkunde is! Besluit om hulle óf reg te help, óf om jou nie aan hulle te steur nie.

En die heel belangrikste vir my:  maak nuwe drome oor jou kind!!!  Dit hoef nie groot drome te wees nie, maar dis JOU drome!  Moenie dat enigiemand dit van jou steel nie!!!!  Hou vas aan ons Hemelse Vader en WEET dat jou kind MEER God se kind is as joune!!  Bid deurlopend vir jou kind en vir jou gesin.

Oorspronklik in die Lente-uitgawe van Ek en my Kind 2014 gepubliseer.

Contact

SAVF FAMNET,
41 Hospital Street, Arcadia, 0083
PO BOX 40526, Arcadia, 0007
012 325 3920
erheeder@savf.co.za
084 383 9417

Join us here

Upcoming events

No upcoming events.

Stay up to date

Enter your email address to receive notification of news and relevant updates.